Daar's geen hoop om dit weg te steek nie - ek het 'n goeie klap kommin Afrikanerkos weg. Ek gooi bruinuiesop in my witsous, ek is mal oor soetmosterd, en ek trek nie my neus op vir die
Wenresepte-boeke nie. Jare terug het Mariette Crawford in
Rooi Rose die term
crimplene kos gecoin, om te verwys na al ons trashy Afrikaner favourites - yskastert en gestolde slaaie, daai soutkoek met die marmite en kaas bo-op, poedings wat bestaan uit kitspoeding wat met
ideal melk gemeng word. En soveel so as wat 'n mens se gesondheid nie vreeslik baie crimplene* kos hanteer nie, en 'n mens nie anders kan as om grappies te maak daaroor nie - "Hul wil hê ek moet fokken
Maizina in die ding gooi? Maizina? Is jy
seker?" bly dit gewild vir 'n rede. Dis lekker. So seker is ons van die feit dat dit lekker is, dat ons sommer die woord in die resepte gebruik. Soos hierdie gem uit
Wenresepte, wat ook gepubliseer is in die
Landbouweekblad (eerste
Landbouweekblad-resep van my lewe, yay!) - Lekkerste Hoender.
Jare terug, toe ons nog op 'n dorpie met 'n plaaslike slagter gewoon het, het die slagter en sy gesin ons soms oorgenooi vir ete. Of meer spesifiek - vir 'n braai. En liewe donner lesers, wat op aarde kan beter wees as 'n braai aan die huis van 'n slagter? Elke moontlike ding wat 'n mens ooit kan braai, van tjoppies en boerewors tot daardie hoendervlerkies op 'n stokkie, varksusters, dun skaapworsies, kaaswors, skilpadjies, steak, vark rashers. Ek kan nie onthou wat ons daarmee saam geëet het nie; daar is 'n vae herinnering aan 'n knoffelbrood iewers, maar die hoofsaak was, per slot van sake, die vleis. In alle geval - wanneer dit uiteindelik tyd was vir my ouers om die slagter en gesin terug te nooi, was my ma radeloos oor wat om te maak. Hoe top mens 'n braai met vyftien verskillende soorte vleisprodukte? En dis toe wat sy onthou van Lekkerste Hoender. 'n Helse klomp hoender word ingevryf met paprika, mosterdpoeier, en sout en peper. And then my dears, it's all downhill from there. Maak 'n sous van baie mayonaise, Griekse jogurt, 'n paar eetlepels tamatiesous, worcestorsous en bruinsuiker. En gooi omtrent twaalf heel huisies knoffel in. Gooi oor die hoender, en bak. Hierdie is crimplene kos van die ergste graad, maar dit is 'n major crowd pleaser. Wat nie net bewys is deur die moans aan tafel daardie aand met die slagter en sy kroos nie, maar weer tydens 'n ete verlede week**, waar die gaste die sous van die hoender met hul snye vars brood opgemop het, tot die laaste smeersel in die pan. En het ek genoem hier's geweldig baie knoffel in? What's not to love?
* Hierdie foto verskaf my ook baie plesier.
**J, daar is 'n rede dat ek jou nie vertel het watse tipe hoender ek gemaak het nou die aand nie; ek was bang jy klim dalk nie op die vliegtuig nie.